top of page

Te vind in die Augustus '23 uitgawe:

Vorige Uitg 5 - Inhoud.png
Vorige Uitg 5 - Redak Image.png

Die afgelope paar weke het ek geworstel… Gewoonlik, weet ek lank voor die tyd waaroor ek wil skryf, maar dié keer, niks. Ek besluit toe om te skryf oor iets wat ons gewoonlik so maklik miskyk … seëninge.

My ouma was lief om te sê: “Tel jou seëninge, my kind.” As 'n jong dogtertjie van 6 of 7 jaar oud was dit vir my net nog een van my ouma se sê-goed.

Wanneer ek egter terugdink aan my kinderjare, is dit 'n woord wat baie in ons huis gebruik was … “seëninge”. Ek het nie in oorvloed groot geword nie, tog het ek niks gekort.

Ons het 'n ou grammofoon gehad en ek onthou hoe pragtig Min Shaw die liedjie “Tel jou seëninge” deur ons huis laat weerklink het. Ek het altyd woord vir woord saam gesing, uit volle bors natuurlik. Dikwels het ek dit oor en oor gespeel. My ma wat skree in die agtergrond, “Lig die naald mooi op. Moenie die plaat krap nie!”
 
So, gaan 'n mens amper deur die helfte van jou lewe voordat jy regtig besef waaroor die reël, “tel jou seëninge” gaan, want seëninge kom in verskeie vorme in 'n mens se lewe voor… 

Dit is in die eerste gewaarwording van 'n nuwe dag wat breek en deur liefde wat gegee word, ongemeet. 

In vergifnis en drukkies, 'n paar minute van gee en wanneer jy iemand raak loop van lank geleë.

Deur jou kinders, jou man … of as jy iets groots moet aanpak en besef dat jy kan.

In die val van die reën en die waai van die wind, in die

berusting … jy het nog 'n gebroke siel gevind.

Seëninge is deel van ons daaglikse bestaan, dit is soos die lug wat ons inasem, oral waar ons gaan.

Tog kyk ons baie van die bogenoemde mis. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend, dat dit altyd daar sal wees óf dat dit so móét wees. Weinig wat ons terug sit en dink aan al die seëninge wat deel uitmaak van ons daaglikse bestaan, want sien, die lewe van vandag is so gejaagd, dat ons beslis die klein goedjies miskyk.

En dus, nou dat ek baieee ouer is besef ek die wysheid van my ouma se woorde: Tel jou seëninge, tel hul een vir een. Seëninge jou deur God “geleen”… (geskenk is eintlik die regte woord, maar ek het nog altyd gevoel dat die woord “geleen” beter werk, want alles in hierdie lewe word slegs aan ons geleen).

Liefde en Lig!

Leonita Coutts

Leonita Coutts

Vorige Uitg 5 - Thumbnails.png
Klik hier Button.png
bottom of page