Te vind in die November '23 uitgawe:



Dit is November en skielik het die dae rolskaatse aan. Ek probeer tans vasklou, want alles beweeg teen 'n spoed van sy eie. Dalk is 2023 moeg van homself. Ek moet sê, in baie opsigte was dit 'n riller van 'n jaar…
Nog nooit het die petrol prys so baie gestyg nie en moenie van die prys van kos vergeet. Kookolie, aartappels, en nou eiers... Ag Vader, alles het met 'n hele paar sent duurder geraak, maar die eersgenoemdes het elk individuele rekords gebreek. Ons ekonomie is basies in sy kanon … en ek gaan nie eers van Eskom praat nie. Ons sin vir humor het male sonder tal verhoed dat ons iets onverantwoordeliks doen en een van die gunsteling sê-goed was: “Only in Sout-Aflika!”
Behalwe dít wat ons eindeloos geïrriteer het was daar ook soveel hartseer. Dit het telkemale gevoel asof die land asook die wêreld in 'n “Twilight Zone” verander het. Niks maak sin en niemand dink logies. 'n Gevoel van hulpeloosheid het 'n mens male sonder tal oorweldig. Magsbeheptheid die nuwe siekte. Hartseer inderdaad…
Tog, deur die hik, snik en trane het daar mooi dinge ook gebeur. Wat is 'n jaar dan nou sonder genade en seëninge. Ja, daar is altyd iets om voor dankbaar te wees. Dit is juis die “malligheid” van die wêreld wat my instinktief dankbaar maak. Dankbaar vir eenvoud, nederigheid, liefde, vriendskap, innerlike krag… Dankbaar vir my “binnekamer” waar ek die wêreld kan uitsluit en vrede kan vind in die raserige roesmoes wat daagliks 'n impak op my maak. Dit is so belangrik dat ons moet vashou aan dit wat goed is. Dat ons nie ons self moet verloor in die
“malligheid” van die wêreld nie. Wees altyd getrou aan jouself en dit waarin jy glo. Probeer om 'n verskil te maak, al is dit ook hoe klein, want daar is niks meer vervullend as om iets vir ander te doen.
Hierdie jaar was verskriklik emosioneel vir my… Daar is baie redes, heeltemal te veel om te deel, maar ek het geestelik gegroei en ek het ook geleer om stil te raak. Ek dink die “stil” raak deel is wat ek die meeste voor dankbaar is, want ek kon uiteindelik met “nuwe” oë na alles om my kyk.
Sodoende kon ek dankbaar bly vir genadegawes en nog steeds die mooi in dinge sien, al was dit ook hoe donker.
Liefde en Lig aan almal!

Leonita Coutts
Leonita Coutts



